Vir die Heengeganes (#3142)

Glorie sy aan U, o Here my God! Verneder nie hom wat U deur die krag van U ewigdurende oppermag verhef het nie, en verwyder nie ver van U hom wat U die tabernakel van U ewigheid laat ingaan het nie. Sou U, o my God, hom wat U met U heerskappy oorskadu het verwerp, en sou U hom van U afwys, o my Begeerte, vir wie U 'n skuilplek was? Kan U hom wat U opgehef het, verneder, of hom wat U in staat gestel het om U te onthou, vergeet?

Verheerlik, ontsaglik verheerlik sy U! U is Hy Wat van ewigheid af die Koning van die hele skepping en sy vernaamste Dryfkrag was, en U sal tot ewigheid die Here van alle geskape dinge en hulle Beskikker bly. Verheerlik sy U, o my God! Indien U sou ophou om genadig te wees teenoor U dienaars, wise sou dan genade teenoor hulle bewys; en indien U sou weier om U bemindes te hulp te kom, wie is daar wat hulle kan help?

Verheerlik, oneindig verheerlik sy U! U word in U waarheid aanbid, en U, voorwaar, vereer ons almal; en U is geopenbaar in U geregtigheid, en van U, voorwaar, getuig ons almal. U is, in der waarheid, bemin in U genade. Geen God is daar behalwe U nie, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vir die Heengeganes (#3143)

Hy is God, verhewe is Hy, die Here van vriendelike goedheid en mildheid!

Glorie sy aan U, U, o my God, die Here Alvermoënd. Ek getuig van U alvermoëndheid en van U mag, U oppermag en U vriendelike goedheid, U genade en U krag, die eenheid van U Bestaan en die eenheid van U Wese, U heiligheid en verhewenheid bo die wêreld van bestaan en alles wat daarin is.

O my God! U sien my afgesonder van alles behalwe U, hou vas aan U, en wend my na die oseaan van U mildheid, na die hemel van U guns, na die Môrester van U genade.

Here! Ek getuig dat U U Pand in U dienaar gelê het, en dit is die Gees waarmee U die lewe aan die wêreld gegee het.

Ek vra U by die prag van die Sfeer van U Openbaring, genadiglik van hom dit te ontvang wat hy in U dae volbring het. Gee dan dat hy met die glorie van U welbehae mag beklee word en met U aanname versier word.

O my Here! Ek self en alle geskape dinge getuig van U mag, en ek vra U om hierdie gees wat na U opgestyg het, na U hemelse plek, U verhewe Paradys en U skuilplekke van nabyheid, nie te verwerp nie, o U Wat die Here van alle mense is!

Vergun dan, o my God, dat U dienaar mag omgaan met U uitverkorenes, U heiliges en U Boodskappers in die hemelse plekke, wat die pen nie kan vertel nie nòg die tong kan meedeel.

O my Here, die arm een het voorwaar na die Koninkryk van U rykdom gehaas, die vreemdeling na sy tuiste binne U voorhowe, hy wat pynlik dorstig is, na die hemelse rivier van U mildheid. Beroof hom nie, o Here, van sy aandeel aan die onthaal van U genade en van die gunsbewys van U mildheid nie. U is in der waarheid die Almagtige, die Genadige, die Almilddadige!

O my God, U Pand is aan U teruggebring. Dit betaam U genade en U mildheid, wat U gebiede op die aarde en in die hemel omvat het, om aan U nuut-verwelkomde U gawes en U skenkings en die vrugte van die boom van U genade toe te staan! Sterk is U om te doen soos U wil, daar is geen ander God behalwe U nie, die Genadige, die Mees Milddadige, die Medelydende, die Skenker, die Vergewer, die Kosbare, die Alwetende.

Ek verklaar, o my Here, dat U aan die mense voorgeskryf het om hulle gas te eer, en hy wat na U opgevaar het, het voorwaar U bereik en U teenwoordigheid behaal. Handel met hom dan ooreenkomstig U genade en mildheid! By U glorie, ek weet stellig dat U Uself nie sal terughou van wat U U dienaars beveel het nie, nòg U hom ontsê wat aan die koord van U mildheid vasgehou het en na die Daeraad van U rykdom opgestyg het.

Daar is geen ander God behalwe U nie, die Een, dier Enige, die Magtige, die Alwetende, die Milddadige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Vir die Heengeganes (#3144)

O my God! O U de vergewer van sondes, skenker van gawes, verdrywer van smart!

Voorwaar, ek smeek U om die sondes te vergewe van dié wat die liggaamlike gewaad agtergelaat het en na die geestelike wêreld opgevaar het.

O my Here! Reinig hulle van oortredinge, verdryf hulle verdriet en verander hulle duisternis in lig. Laat hulle die tuin van geluk binnegaan, reinig hulle met die allersuiwerste water, en gee dat hulle U luister op die hoogste berg aanskou

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

